VRAE EN ANTWOORDE

Die mees algemeenste vrae oor al drie ons produksies word hier beantwoord.

Algemeen (van toepassing op al drie produksies)

Wie is die teikenmark?

Ons verskillende storievertelling-aande is onbeskaamd gemik op mense wat werklik wil luister na die tipe stories wat in hierdie genre val. Normale en opgevoede teater-etiket is dus van toepassing tydens die storievertellings. Indien jy dit nie verstaan nie maar eerder wil fuif en partytjie hou, is hierdie aand nie vir jou nie. Dronk en luiddrugtige persone sal die vertellings glad nie verstaan of waardeer nie. Hulle sal die produksie vervelig vind en daarom ook onwelkom voel.

‘n Ouderdomsbeperking?

Nee, nie van ons kant af nie. Ouers ken hul kinders en sal self weet of hulle gereed is om aanbiedings, produksies en uitstappies soos hierdie by te woon. Ons ondervinding is egter dat kinders van jonger as 18 moontlik nie aanklank hierby sal vind nie, maar dit bly die ouers se eie keuse. Dit is verder ook net logies dat baba’s, kleuters en lawaaierige kinders nie die aand sal kan bywoon nie.

Is die verskillende aanbiedings nie on-Bybels nie?

Ons onderskryf die Christelike geloof wat glo dat die geesteswêreld wel bestaan waarvan die Bybel ook vol voorbeelde is. Verder is daar wêreldwyd letterlik miljoene vertellings van mense wat dit ervaar het. Dink maar aan gevalle soos naby-dood-ondervindings of waar die gees van ‘n afgestorwene aan ‘n geliefde verskyn om vertroosting of advies te bring. Tydens al drie die verskillende produksies vertel ons meer hiervan. Die deurlopende tema is dat die Goddelikheid, asook die Hemel of Paradys, wel ‘n werklikheid is.

Hoe bespreek en betaal ek?

Maak eers seker jy weet wat die spesifieke produksie behels sodat jy nie jou geld sal mors nie. Kaartjieverkope is geensins ons prioriteit nie, veel eerder gaste wat almal die aand sal geniet. Bespreek dan aanlyn vanaf hierdie webblad vir die spesifieke produksie of uitstappie van jou keuse. Jy sal ‘n epos binne 12 ure ontvang met al die verdere nodige besonderhede. Sitplekke is onderhewig aan beskikbaarheid en is eers geldig na jou betaling met ‘n EFT gemaak is en jy ‘n bevestigings-epos ontvang het.

Wanneer is die toekomstige datums?

Dit is onnodig om ons hieroor te kontak. Die datums soos aangedui op die webblad en op die Facebookblad is korrek en is die nuutste beskikbare datums vir die uitstappies en vertonings. Dit word maandeliks opgedateer. Sluit dus aan by ons Facebook-blad of loer net gereeld hier in waar die nuutste datums gepubliseer word.

pta-SPOOKBUS-uitstappie

Wat behels dit?

‘n Storie-rit per bus deur die strate van die Jakarandastad, eksklusief bedoel vir paartjies, gesinne of families. Mense wat ‘n hunkering na spookvertellings het, maar wat ook effens wil terugdelf in die geskiedenis van die stad. Die pta-SPOOKBUS-uitstappie is nie geskik vir sosiale groepe, funksies of blokbesprekings (soos bv. vir korporatiewe-, spanbou-, verjaarsdag- of klubuitstappies) nie.

Meer besonderhede: pta-SPOOKBUS-uitstappie

Gaan ek ‘n spook sien?

Nee! Ons roep nie geeste op of jag spoke nie. Dit is onnodig, want die geesteswêreld is permanent om ons teenwoordig en openlik vir almal om te ervaar vir diegene wie hulle daarvoor ontvanklik maak. Hulle vind gereeld orbs- en ander bonatuurlike verskynsels op die foto’s wat hulle geneem het, of kry koue rillings op ander plekke. Maar dit bly uiteraard die fenomeen se eie keuse of hulle hul teenwoordigheid wil wys al dan nie. As jy die geleentheid wil bywoon met die doel “om ‘n spook te sien”, is jy beslis by die verkeerde plek.

Hoeveel kroeg- of restaurantbesoeke is daar?

Hierdie uitstappie besoek geen drink- of eetplekke om die tyd te verwyl nie, want die aand is reeds vol gepak met talle klassieke spookverhale en geskiedkundige vertellings. Dit is nie ‘n partytjiebus of piekniek nie, maar ‘n storie-op-wiele aanbieding. Dit is dan ook logies dat geen koelsakke met wegneem-etes of drank saam geneem mag word nie. Daar is wel ‘n klein snoepie op die bus beskikbaar met koeldrank, water en chips om die innerlike te versterk.

Watter plekke word besoek?

Hierdie uitstappie is nie ‘n tradisionele toer met die doel om plekke en geboue te besoek nie. Dit is ‘n storie-op-wiele aanbieding waar die klem op die storievertellings val. Hierdie vertellings geskied wel op verskillende plekke: op die bus asook van die bus af. Om egter voor die tyd te wil weet watter stories word vertel en waar elkeen afspeel, is om soos vir ‘n regisseur van ‘n teaterstuk te vra wat is die drama se storielyn en hoe lyk die verhoogdekor. Dit sal jou uiteindelike belewenis daarvan totaal vernietig.

DIE-anner-LEWE

Wat behels dit?

‘n Aand waar die spookstorievertellings met die musiek van die sangpaar Die Venster gekombineer word om een geheel te vorm. ‘n Intieme teater-ervaring, opgevoer in verskillende venues op verhoë in Gauteng.

Meer besonderhede: DIE-anner-LEWE

(Kontak ons indien jy die produksie wil bespreek vir jou venue soos byvoorbeeld ‘n teaterrestaurant, hotelvenue of klein teater. Ook vir gemeenskapsorganisasies, klubs of verenigings wat opsoek is na ‘n unieke fondsinsamelingsprojek.)

SPOKE-oppi-PLATTELAND

Wat behels dit?

‘n Eenman-vertoning aangebied by verskillende venues in die Gautengse-platteland. Sommige vertonings vind wel ook in die stedelike gebied plaas op plekke met ‘n plattelandse atmosfeer.

Meer besonderhede: SPOKE-oppi-PLATTELAND

(Kontak ons indien jy hierdie storie-aand vir jou plattelandse venue wil bespreek.)