OORSIG

Wat is dan lekkerder as daardie spesiale kuiers saam met jou gesin, familie of vriende om ’n etenstafel? Glasie wyn in die hand met musiek wat in die agtergrond speel. Kosbare onthou-oomblikke met samesyn en kwaliteittyd as die hoofbestandele. Natuurlik het sulke kuiers in die ou dae altyd gepaard gegaan met spannende spookstorievertellings. ’n Vergete era wat verby is, maar dit is juis dié nostalgie waarna ons tydens ons kuieraand, DIE-anner-LEWE, teruggryp.

Nou kan jy kom aansit in ’n venue naby jou. Geniet ietsie te drinke saam met ’n aandete. Ervaar dan ’n aand gevul met aangrypende spookstories, soos vertel deur Jaco Hough-Coetzee. Vertellings wat jou kop in ongeloof sal laat skud, of ander wat koue rillings deur jou lyf kan stuur.

Op die spyskaart wag stories vir jou soos die meisie wat langs die Potchefstroompad vir ’n saamry-geleentheid bedel – nadat sy ’n maand van te vore daar in ’n motorongeluk gesterf het.
Of die plaasvrou in die Noordkaap wat skuins na middernag deur ’n verskynsel wakker gemaak is wat haar soebat om saam met haar te kom. Sowat 300 meter vanaf die plaashuis beduie die verskynsel na ’n plek in die grond en sê: “Dit is waar my man my 30 jaar gelede begrawe het . . . nadat hy my vermoor het.”
Ook die storie van die vrou wat tydens haar ma se begrafnisdiens ’n SMS vanaf haar oorlede ma se nommer kry. Die SMS-boodskap het gelui: “Dankie, ek het veilig gearriveer.”

Die dramatiese storievertellings word ingekleur en vermeng met die immergroen musiek van die sangpaar Charl Erasmus en Angelique Greffrath.
Luister na tydlose treffers met spookagtige ondertone soos onder andere “Skadu’s teen die muur” (Koos du Plessis), “All I ask of you” (Andrew Lloyd Webber) en “Kerse teen die donker” (Amanda Strydom).

Geen van die stories op die program is fiksie of uit die duim gesuig nie. Alle vertellings is gebaseer op ware verhale wat reeds in die media of ander publikasies gepubliseer is of op ervarings wat persoonlik met ons gedeel is.

Sien jy steeds kans hiervoor?

Wees egter gewaarsku: nadat jy jou plek ingeneem en jou glas gevul is, sal die ligte afgaan en die buitehek gesluit word. Dan is daar geen ontsnapkans meer nie. Dan word jy vir 90 minute lank weggevoer en geboei deur DIE-anner-LEWE.
Bring jou vriende saam, want jy wil nie alleen daar in die donker wees nie . . .

SKOLE, KULTUUR- EN WELSYNORGANISASIES
Bespreek hierdie unieke storie- en musikale reis en bied dit in jou omgewing en gemeenskap aan as ’n funksie of fondsinsamelingsprojek.
Kry die brosjure: Hier